![]() |
![]() |
|
KRIT: feeskoerant van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, Suid-Afrika!
Meulenaar gooi 'n groot knuppel in dié hoenderhok
door Laetitia Pople
Oudtshoorn - 'n Sprokie vir 'n donkermaan word saans vertel op die Vredestraat-sportterrein, by name Messe in Henne van die Nederlandse Toneelgroep De Appel.
In dié KKNK-stuk is ons op die afgeleë platteland in Bloubaard se grieselrige kasteel, maar dan raak ons ook vasgevang in die web geweef deur 'n berekende spinnekopwyfie; die wendinge verras.
Boer en Boerin bewerk hul akkers liefderik, hulle praat met mekaar in die taal van die grond en die wisselinge van seisoene. Saans is hulle gewikkel in 'n oeroue, gewelddadige paringsdans.
Maar dan raak hul meel op en die boerin moet na die meulenaar. Onheilspellende stories loop oor dié man, alleen in sy toring. Mense verdwyn. Sy toring is "bevolk" met rye op rye boeke, sy enigste gespreksgenote. Haar eenvoudige filosofie: ‘Kan jy dit eet of hou dit jou warm?', hou sy voor as kruis teen dié boosheid. Hy loop oor van kopdinge wat jou wegneem van die hier en nou, dinge wat haar lewe anders raam. Die gort is gaar as sy ook durf droom. Die bestaansboerdery word as't ware op sy kop gekeer.
Messe in henne is bedrieglik eenvoudig. Dit speel met oertemas soos 'n kind met 'n strandbal. Die Nederlanders het twee jaar terug met hul aanskoulike produksies Ararat en Salto Vitale die KKNK se Oudtshoorn Oraloor-program kom vestig, hier bou hulle voort op wat reeds 'n trotse tradisie is en wat dié fees se kenteken gaan word. Al wat pandjieswinkel in Oudtshoorn is, is waarskynlik leeggekoop vir dié stel. Ou kaste is opeengestapel en met behulp van lere word daar op verskillende vlakke gespeel. 'n Kas word 'n kamer vir "ontlasting" - toilettroon maar ook biegkamer. Ligte flits aan en af as tonele verwissel en 'n goiingsak meel wat in die lug uitgeskud word, toon karakters se gedaantewisseling.
Messe in henne, die eerste stuk van skrywer David Harrower, is ‘n sterk gestileerde vertelling oor 'n boer, sy jong vrou en 'n meulenaar. Die boer en sy vrou kommunikeer in 'n eiesoortige taal en is erg op mekaar aangewese. As die vrou eendag koring na die meulenaar toe moet neem om te laat maal, kom sy, ten spyte van haar man se pogings om dit te voorkom, onder die invloed van die meulenaar, met noodlottige gevolge vir die boer. 'n Ryk verskeidenheid aspekte word deur die stuk aangespreek: wat is taal en hoe staan taal ten opsigte van die egte lewe; kom jou gedagtes uit jouself of van God; en hoe gaan jy om met ander mense?
Nadia Amin speel haar rol besonder sterk. Met 'n totale inset en sprankelende spel is sy die spil van die hele stuk. 'n Wonderlike aktrise. Die samespel met Hugo Maerten lewer mooi tonele op.