Motel Detroit 3

Ararat

Hoorn: Ararat in die volstruiskamp

Aktrise Nicola HanekomDeur Garnett Wicomb

DIE volstruiskamp by Moooi, sowat 5 km buite Oudtshoorn op die Rooiheuwelpad, is vanjaar die tuiste vir Ararat, een van die Absa KKNK se buiteproduksies, 'n produksie wat beloof om 'n treffer te wees.

"Ek is baie opgewonde," het die regisseur, David Geysen van die Nederlandse Toneelgroep De Appel, vroeër die week gesê.

Geysen is deur die hoof-uitvoerende beampte van die KKNK, mnr Brett Pyper, genooi om 'n buitelugproduksie vir die KKNK te kom doen nadat hulle mekaar by verlede jaar se Nasionale Kunstefees op Grahamstad raakgeloop het.

"Ons het Moooi gekies omdat dit die ideale plek is," sê Geysen. "Daar in dié klein veld in 'n wye landskap met die Swartberge in die agtergrond, die roep van 'n volstruis en die flikkerende liggies van 'n township onder die sterre. God se skepping."

Ararat is volgens Geysen 'n ligte absurde voorstelling oor drome en geloof.

"Elk van die vier akteurs het sy eie geloof, 'n poëtiese soektog na die nietigheid van die mens."

Die verhaal handel oor Noag se Ark wat volgens Geysen op Woensdag 5 Mei 2 348 vC op die berg Ararat tot stilstand gekom het.

"Daar is net 'n verlate veld met 'n ou skeepswrak in die middel en op die agtergrond die Swartberge. Dis sononder en in die verte hoor 'n mens volstruise roep."

Geysen gebruik die berg Ararat, die plek waar Noag se Ark volgens die Bybel geland het, as beginpunt vir 'n asosiatiewe teaterstuk oor die mens en sy geloof.

Die akteurs is Albert Pretorius, David Johnson en Nicola Hanekom van die Universiteit van Kaapstad en Gaeten Schmid van Nederland.

Hulle praat Afrikaans, Engels en Nederlands in die stuk en daar is baie musiek.

Feesgangers sal op strooibale sit met 'n uitsig oor die Swartberge.

  • Ararat is een van die Absa KKNK se interessante produksies en werksessies wat in en om Oudtshoorn aangebied word om die Klein Karoo-landskap as verhoog en agtergronddoek te gebruik. Dit sal daagliks te sien wees vanaf 18:30 en duur sowat 90 minute.
| Meer